Minimumloon word verhoog

Werkgewers gaan van volgende jaar die hand diep in die sak moet steek om by te bly by die nasionale minimumloon.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het al vroeër vanjaar die groenlig gegee dat die nasionale minimumloon volgende jaar Mei in werking gaan tree en dat dit waarskynlik op R3 500 per maand te staan sal kom vir vaste werkers.

Nou het die kabinet konsepwetgewing goedgekeur waarvolgens die uurlikse minimumloon op R20 per uur vasgemaak gaan word.

Skynbaar het kredietgraderingsagentskappe vroeër gesê dat ‘n minimumloon kan help om die arbeidsmark te stabiliseer en help om die getal stakings in die land te verminder. Arbeidskenners stem nie daarmee saam nie, aangesien hulle voorsien dat groot afleggings gaan voorkom omdat werkgewers in die huidige swak ekonomiese klimaat nie die salarisse sal kan betaal nie. Bowendien vind min stakings plaas oor salarisse, maar eerder oor dienslewering.