Merkel se koalisiegesprek val plat

Die Duitse Vrye Demokratiese Party het onttrek uit samesprekings en daarmee die regerende party van kanselier Angela Merkel in die noute gedruk wat die einde van haar bewind kan beteken.

Die Vrye Demokrate het ernstige verskille gehad oor onwettige immigrante, en kon nie tot ’n ooreenkoms kom met die linkse Groenes wat oop grense bepleit nie.

Die Groenes wat ook deel sou uitmaak van die vier partye in die koalisie, het groot toegewings geëis waaraan Merkel se Christen Demokrate, en haar koalisievennoot, die Christen Sosiale Unie van Bavaria, moes voldoen.

Die Vrye Demokrate se leier, Christian Lindner, het Sondag in ’n verklaring gesê ’n “basis van vertroue” kon nie gevestig word nie, en daarom onttrek hulle uit die samesprekings.

Merkel se CDU sukkel nou reeds weke lank om ’n ooreenkoms te kry met die Groenes en die Vrye Demokrate, en die lang uitgerekte vergaderings het die vermoede laat ontstaan dat alles nie pluis is nie.

Die vier partye het oor ’n tydperk van meer as ’n maand probeer om die sogenaamde “Jamaika” koalisie te vorm, maar politieke ontleders het gemaan dat die vreemde bedmaats ’n brose verhouding gaan wees wat nie lank gaan hou nie en Duitsland se geloofwaardigheid as leier in Europa gaan kelder.

Merkel het kort na die verkiesing gesê daar is nie sprake dat haar party met die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland in ’n koalisie sal regeer nie, en het verkies om met die linkse Groenes saam te werk, wat nou ’n skraal kans het om te realiseer.

Foto – Christian Lindner