Merkel maak baie toegewings

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, word gedwing om baie toegewings te maak om uiteindelik ’n regering saam te stel wat uit vier politieke partye sal bestaan.

Haar Christen Demokrate Unie en die Christen Sosiale Unie van Bavaria is jarelange koalisievennote, maar om die linkse Groenes en die Vrye Demokrate te akkommodeer is veel moeiliker as wat Merkel besef het.

Dit is reeds twee maande na die September verkiesing waarin Merkel uiters swak gevaar het terwyl die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland sterk groei getoon het.

Waarnemers sê die onderhandelinge is reeds vêr gevorder en ’n finale aankondiging word later die week verwag, maar dit kon slegs gedoen word nadat kanselier Merkel groot toegewings moes maak om die twee kleiner partye gelukkig te hou en in die proses nie die steun van die CSU te verloor nie.

Daar is egter diegene wat meen die samesprekings kan nog langer duur aangesien Merkel nie oortuigend genoeg geklink het tydens ’n media onderhoud nie.

Kenners wys daarop dat suksesvolle onderhandelings eers finaal is wanneer ’n koalisie ooreenkoms op skrif gestel en onderteken is, wat nog etlike weke kan duur.