Merkel en aartsvyande dalk in koalisie

Die tweede grootste politieke party in Duitsland, die linkse Sosiaal Demokrate, het die afgelope naweek ’n lang debat gevoer wat tot diep in die nag geduur het oor wat hulle moet doen om die politieke krisis op te los.

Met die verskillend opsies op die tafel, het die sosialiste selfs oorweging gegee om met die gematigde party van kanselier Merkel in ’n koalisie te gaan.

Die party is, net soos die regerende party, onder toenemende druk om oplossings te vind vir die politieke krisis nadat die land se president ’n dringende beroep op partye gedoen het om weer met mekaar in gesprek te tree en ’n regering saam te stel.

Dit blyk egter dat die partyleiers nie ’n finale besluit geneem het oor moontlike koalisievorming met die Christen Demokrate Unie van Angela Merkel en haar vennoot, die Christen Sosiale Unie van Bavaria nie.

Die Duitse president, Frank-Walter Steinmeier, het die leier van die sosialiste, Martin Schulz, te woord gestaan oor so ’n moontlikheid, maar dit blyk of die party eers ’n wagtende houding gaan inneem.

Die Sosialiste se algemene sekretaris, Huberts Heil, het later gesê die party sal homself nie uit die gesprekke laat druk nie, maar respekteer ook die optrede van ander partye wat poog om die krisis op te los.

Schulz het Vrydagmiddag geswig onder die druk en bevestig dat sy party met kanselier Merkel se CDU gaan onderhandel om ’n groot koalisie te vorm.

Waarnemers wys daarop dat ’n koalisie met die Sosialiste ’n sterk meerderheid vir kanselier Merkel sal beteken, maar dit beteken dat sy bereid moet wees om verder na links te beweeg, en hoe die samewerking tussen die twee ou politieke opponente met uiteenlopende standpunte gaan wees, is bykans ondenkbaar.

Foto – Angela Merkel en Martin Schulz