Lesufi lieg, sê VF+

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, probeer doelbewus om die publiek te mislei deur uitsprake dat daar plek is vir Afrikaanse skole in dié provinsie. Sy optrede wys dat hy presies die teenoorgestelde beplan,” sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts sê die feit dat Lesufi se departement wel die begroting het om bykomende skole te bou om leerlinggetalle én sodoende moedertaalonderrig te akkommodeer maar dit nie doen nie, dien as  genoeg bewys dat hy net een ideologiese doel voor oë het, en dit is die totale vernietiging van enkelmedium-Afrikaanse skole.

“Lesufi sê daar moet inklusiwiteit wees en daar is geld om enkelmediumskole om te skep in dubbelmediumskole. Tog weet hy al te goed dat dit dan net ʼn kwessie van tyd is voordat die skole totaal verengels.

“Lesufi sal moet sê waarom hy nie bereid is om in gesprek te tree met die Afrikaanssprekende-gemeenskap oor skole in Gauteng nie. Hy weier ook om te praat met die VF Plus wat ʼn beduidende aantal Afrikaanssprekendes in Gauteng verteenwoordig.

“Hy moet ook verduidelik waarom die geld wat begroot is om bykomende skole te bou, bloot nie gebruik word nie. Dit lei direk daartoe dat daar druk op bestaande skole geplaas word om anderstalige leerlinge in te neem. Wat maak Lesufi met hierdie geld?

“Hy sê almal het die reg tot onderrig, maar die Grondwet maak dit duidelik dat waar moontlik daar moedertaalonderrig moet geskied. Hy het die geld om hieraan uitvoering te gee, maar doen dit doelbewus nie.

“Hy moet verduidelik waarom hy gedienstig is aan ʼn koloniale taal wat almal in die land, wit en swart, onderdruk het. Dit VF Plus sal sy planne beveg. Wat hy doen is net ʼn vorm van kulturele uitwissing wat in die internasionale reg verbied word,” sê adv. Alberts.

foto: Panyaza Lesufi