Landbou in Zimbabwe dalk beter

Die paar blanke boere wat oorgebly het in Zimbabwe, het die versekering dat niks gedoen sal word om hulle te benadeel nie, maar tientalle boere wat uit die land is, weier om die uitnodiging van die nuwe president summier te aanvaar.

Vrydag word die nuwe president in sy amp bevestig, maar kenners sê daar moet baie dinge reggestel word voordat die blanke boere sal terugkeer nie dié bankrot land.

Blanke boere wat die land verlaat het, sê hulle het reeds elders in Afrika gevestig, en alhoewel hulle aanvanklik gesukkel het weens die swak infrastruktuur, is daar minstens vrede en kan hulle voedsel produseer sonder om te vrees vir hulle lewens.

Verskeie boere wat egter in Zimbabwe agter gebly het nadat hulle grond van hulle weggeneem is deur die diktator Robert Mugabe, is nog onseker of hulle dit gaan waag om weer te boer aangesien ZANU-PF steeds die land regeer, en die nuwe president nie juis ’n vleiende rekord as politikus het nie.

Zimbabwe se regering glo egter dat die produksie weer op ’n hoë vlak sal wees, en het bygevoeg dat hulle maar voedselsoorte sal invoer wat nie plaaslik geproduseer word nie.