Kul die motorvervaardigers?

Eers was dit die vervaardigers van diesel aangedrewe motors wat gekul het met die ontbranding en besoedeling gegewens wat gelei het tot miljarde dollar se eise teen sekere vervaardigers.

Nou word ’n ander kullery gevind met die afstand wat eklektiese motorvoertuie kan aflê voor hulle weer herlaai moet word.

’n Verbruikersorganisasie in Europa het met toetse begin en gevind dat elektriese motors soveel as 49% minder kilometers aflê as wat hulle veronderstel is volgens die tegniese gegewens wat vrygestel word deur die vervaardiger.

’n Switserse TV organisasie het in samewerking met die Franse verbruikersorganisasie die toetse gedoen.

Renault Zoe, Nissan Leaf, en Opel Ampera-e is getoets, en skokkende ontdekkings is gedoen wat neerkom op kullery aangesien die eienaar veel meer gaan betaal vir elektrisiteit as wat aan hulle voorgehou is.

Die toets is so realisties moontlik gedoen deur naas die bestuurder, nog een volwasse passasier te laat saamry asook twee kinders.

Die motor se verwarming word op 22 grade gestel waarna stadsverkeer en die oop pad gery word, terwyl toestande van normale verkeersvloei ook gekies is wat ’n invloed kan uitoefen.

Gedurende die toetsrit word van bestuurder verwissel om die uitwerking redelik eweredig te hou.

Die Renault Zoe kon slegs 232 in plaas van 400 kilometer ry, wat slegs 60% is van die afstand wat deur die vervaardigers aangegee word.

Die Nissan Leaf het ewe swak gevaar met 144 in plaas van 250 kilometer terwyl die Opel Ampera-e slegs 301 in plaas van 520 kilometer kon aflê.

Deskundiges wys daarop dat motors met binnebrandenjins se gegewens normaalweg aangegee word vir slegs een persoon in die motor en as ’n snelheid van 100 km per uur gery word op die oop pad, terwyl die lugversorger afgeskakel is, wat ook die norm behoort te wees wat toegepas word met elektriese motors.