Kuba beskuldig VSA van leuens

Die minister van buitelandse sake in Kuba, ene Bruno Rodriguez, het die afgelope naweek in ’n mediaverklaring gesê die Amerikaanse regering lieg oor die aanvalle wat in Kuba gemaak is op Amerikaanse diplomate.

Die verklaring volg nadat Amerikaanse personeel van die diplomatieke korps in Kuba gekla het dat supersoniese uitstralings hulle gehoor aangetas het en doofheid veroorsaak het.

Die diplomatieke personeel is kort daarna na die VSA teruggeroep en moes behandeling ontvang vir hul beskadigde gehoor.

Die Amerikaanse regering glo dat die Kubane verantwoordelik is vir die gehoorverlies wat op ’n vreemde wyse by verskeie personeellede ondervind is.

Die Kubaanse minister het ontken dat die land se regering verantwoordelik is vir die geheimsinnige wyse waarop doofheid ontstaan het, en sê die VSA se optrede bring die twee lande terug na die vorige tydperk toe geen skakeling tussen die twee lande plaasgevind het nie.

Die VSA het vroeër gesê meer as 20 personeellede in die ambassade in Kuba het gehoor probleme ontwikkel en moes terugkeer om behandeling te ontvang.

Minister Rex Tillerson van die VSA het gedreig om die ambassade te sluit aangesien diplomatieke personeel onderwerp word aan ’n teistering wat onaanvaarbaar is.

Foto – Bruno Rodriguez