Kragtige ontploffing ruk Sjinese stad

’n Kragtige ontploffing in ’n Sjinese hawestad naby Shanghai het die dood van verskeie mense veroorsaak en sowat 40 is ernstig beseer.

Die ontploffing by ’n nywerheid in die hawestad Ningbo was so hewig dat gedeeltes van die nabygeleë geboue in puin gelê is en die lug binne sekondes met rook gevul is terwyl die vlamme etlike meters hoog alles verteer het.

Talle motors en vragmotors is in die ontploffing vernietig en talle geboue wat nog staan, se vensters is uitgeruk wat ’n kilometer weg van die ontploffing is.

’n Paar wonings in die nabyheid is platgevee, maar was nog onbewoon, en die regering het ’n breedvoerige ondersoek gelas na die voorval wat as een van die ergste is wat die stad getref het die afgelope dekade.

Na raming is meer as tien geboue platgevee terwyl verskeie ander sodanig beskadig is dat hulle waarskynlik gesloop sal moet word.

Soortgelyke ontploffings is egter nie vreemd in Sjina nie weens die swak beheerstelsels wat deur die owerhede toegepas word.