Korrupte verkeersbeamptes in Centurion

‘n Inwoner van Verwoerdburg het Sondagaand te doen gekry met die korrupsie van verkeerslui van die Tshwane Metroraad.

Hy was met sy motor op pad by die Kerk-Sonder-Mure toe hy deur verkeersbeamptes van die pad getrek is en sy motor deursoek is.

Hulle het opgemerk dat sy lisensie verval het. ‘n Beampte sê toe aan hom dat hulle hom kan toesluit en/of sy motor kan skut. Indien hy egter bereid sou wees om aan hulle ‘n bedrag van R1 200 te gee, sal hulle hom vrylaat.

Hy sê toe aan hulle dat hy nie soveel geld aan hom het nie en dat hy ook nie sy bankkaart by hom het nie, waarop hulle sê dat hulle hom sal vergesel na sy huis om sy bankkaart te kry en dan die bedrag by ‘n OTM te gaan trek.

Hulpeloos soos wat hy was, het hy egter nie ‘n keuse gehad nie en stem toe dat hulle hom kan vergesel na sy huis. Daar aangekom het hulle in die straat vir hom gewag en hom meegedeel dat hulle hom net drie minute gun om die kaart te kry.

Nadat hy die kaart gekry het, het hulle hom na die naaste OTM vergesel sodat hy die geld kon trek, maar toe was hulle nie tevrede met die bedrag nie en wou ‘n groter bedrag hê waarop hy vir hulle gesê het dat hy nie soveel geld in sy rekening het nie.

Toe hulle die R1 200 het, het hulle doodluiters weggery en hom by sy motor gelaat.