Herstel vrye mark in Zimbawe, vra TLU SA

TLU SA se president, mnr Louis Meintjes , het skrywes gerig aan onderskeidelik die Britse Hoë Konsulaat en die Duitse Ambassade na aanleiding van beide lande se ondernemings om finansiële hulp in Zimbabwe te gee ten einde die ekonomie aldaar weer op dreef te bring.

“Dit sal indien korrek aangewend word help om weer die land se ekonomie en veral die landbou-omgewing in produksie te kry”  het mnr. Meintjes gesê.

Dit lê nie op die weg van TLU SA om vir enige land voor te skryf nie, maar het tog die vrymoedigheid geneem om hulle te versoek om seker te maak dat daar voldoende vereistes vir korrekte aanwending van die fondse gestel word tesame met behoorlike monitering ten einde te verhoed dat soos so baie ander goed bedoelde skenkings in die sakke van politici beland het.

“Zimbabwe wat eens ‘n hoogs produserende landbouland was sal ‘n groot bydrae kan lewer om Suider-Afrika te help stabiliseer indien die beginsel van privaat besitreg en die vrye mark onbelemmerd hul werk kan doen”, het mnr. Meintjes voorts gesê.

‘n Woord van groot dank is teenoor beide lande gerig vir die beplande bydraes.  Mag die ekonomie uiteindelik seëvier bo politieke onnadenkendheid.

Foto: Mnr. Louis Meintjes