Groot verskille in Duitse koalisie

Die gesloer om uiteindelik ’n koalisie akkoord opgestel te kry word toegeskryf aan die groot politieke verskille tussen die partye wat saam met die Duitse kanselier, Angela Merkel, wil regeer.

Die twee partye, die Christen Demokrate van kanselier Merkel, en hul jarelange vennoot in Bavaria, die Christen Sosiale Unie, moet nou toegewings aan die twee nuwe lede van die koalisie maak, maar dit was tot nou ’n algehele mislukking.

Dit is nou byna twee maande sedert die eerste koalisiegesprekke begin is, en steeds is daar nie tekens dat die ooreenkoms tot koalisie onderteken kan word nie.

Die Vrye Demokrate en die Groenes is klaarblyklik vasbeslote om hulle deelname te verseker deur ’n onwrikbare houding in te neem wat Merkel dwing om beleid standpunte te wysig.

Weke van gesprekke waarin net geluister word, frustrasie en standpunt verskille, is maar die hoofoorsaak waarom daar tot nog toe nie ’n finale ooreenkoms bereik kon word nie.

Die vier partye, wat volgens politieke ontleders die moeilikste samestelling kan wees wat Duitsland kan regeer, is besig om tyd te verspil en sal uiteindelik as die swakste regering beskou word wat die land gekry het sedert die veertigerjare van die vorige eeu.

Hulle moes reeds ’n finale ooreenkoms bereik het afgelope Vrydag, en die vermoede bestaan dat Merkel se toegewings so drasties is dat dit Duitsland se krag as Europese leier gaan vernietig.

Die sogenaamde “Jamaika koalisie”, wat die naam gekry het vanweë elke party se logo kleur wat gesamentlik ooreenkom met die vlag van Jamaika, sal volgens waarnemers ’n brose samestelling wees van partye wat werklik nie versoenbaar is met mekaar nie.

Merkel het verlede week erken dat “dringende, en ernstige gesprekke” nog gevoer moet word, wat bevestig dat die twee kleiner partye nie bereid gaan wees om goedsmoeds hulle eise te laat vaar nie.

Een van die belangrikste punte waaroor die partye hewig verskil, is die toelating van onwettige immigrante, aangesien die Merkel bewind sedert 2015 meer as twee miljoen vreemdelinge in die land toegelaat het.

Die Groenes stel hoë eise oor klimaatveranderings, en weier om groot toegewings te maak, wat vir Merkel en haar Bavaria vennoot ’n netelige saak kan word.

Of die vierparty koalisie die toekomstige bedeling vir die kiesers van Duitsland beteken, sal die tyd leer, maar kenners is dit eens dat so ’n regering nie oor die krag beskik om sterk besluite te neem in tye wanneer dit noodsaaklik is nie.

In die vroeë oggend van Vrydag het koalisiegesprekke weer gestol toe die Vrye Demokrate ernstig verskil het met die uitgangspunte van kanselier Angela Merkel, en politieke ontleders sê dit kan Merkel se einde as regeerder van Duitsland wees as die partye nie Sondagaand tot ooreenkoms kon kom nie.