Fynblaarrooihout / Ochna serrulata

Die Fynblaarrooihout is ook bekend as die “Mickey Mouse bush”, want dit dra die allermooiste bessies wat in ‘n trossie hang aan rooi/geel blomblaartjies.  Die “Mickkey Mouse” naam kom seker van die verskillende kleure van blare en bessies vandaan.  Fynblaarrooihout is in die familie Ochnaceae. Die genus is Ochna en kom van die Griekse naam vir wildepeer, want die blare laat mens dink aan ‘n peerboom se blare. Daar is omtrent 250 spesies van die Ochna serrulata bome en omtrent 86 spesies in Suid Afrika, Madagaskar en Asië.

Hierdie struik groei baie dig met digte heldergroen, blink blaartjies aan weerskante van die takke. Dit blom dan ook weelderig met die bessies aan trossies. Die bessies is blink en donkergroen. Ochna serrulata word tot 2 meter hoog, maar in sekere gebiede kan dit 6 meter hoog groei en daarom is dit geklassifiseer as ‘n klein boom SA nommer 4791.

Die struik het ‘n lang dun stam met sagte bruinkleurige bas. Die takke groei uit hierdie hoofstam en is oortrek met klein ligte kolletjies. Die blink blaartjies is lank met ‘n duidelike hoofaar in die middel en word 13 tot 50 mm lank, met sommige van hulle met ronde puntjies. Die voorpunt van die blaartjies lig so effens op. In die lente is hierdie blaartjies pienk/brons van kleur en soos wat dit groter en ouer word verkleur dit na blinkgroen.

Hierdie pragtige struik is vol geel/rooi blommetjies in die lente. Die blomblare verlep egter gou, maar vertoon baie pragtig gedurende die tyd wat hulle vol oop is. Dit dra bessies wat in trossies van 5 – 6 vruggies hang. Wanneer hierdie groen bessies ryp word, is hulle blink en swart. Dit word in die vroegsomer ryp.

Fynblaarrooihout struike groei goed in subtropiese gebiede van Suid Afrika. Dit groei veral goed in die groen woude waar hulle nooit ryp kry nie. Dit sal in die binneland ook mooi groei mits dit teen ryp beskerm word. Plant hierdie bome in volson of ligte skadu. Gee genoeg kompos en water. Hulle kan wel droogtetye hanteer. Dit groei stadig en dit is goed om gereeld te snoei.

Plant gerus hierdie pragtige struik in u tuin, dit sal sommer baie verskillende voëls, bye en skoenlappers na die tuin lok. Selfs duiwe hou van hierdie bessies. Hierdie struik is baie ornamenteel in ons tuine. Dit kan van saad of steggies voortgeplant word. Steggies moet in die somer gesny en geplant word en moet met hormoonpoeier behandel word. Dit neem 4 tot 6 weke om wortels te ontwikkel. Fynblaarrooihout word ook nie deur verskeie fungus infeksies aangeval nie.

Tuiniers,  geniet u tuin tot volgende keer.