Frangipani / Plumeria rubra

Die Frangipani bome is seker die mees bekendste en kleurvolste struike in ons tuine. Dit is ook glad nie onbekend nie, eerder gewild. Frangipani is in die familie Apocynaceae, subfamiie Rauvolfioideae en die genus is Plumeria.

Dit is meerjarige struike, maar verloor wel hul blare in die winter. Frangipani’s dra oorvloedig blomme wat vreeslik lekker ruik en jy weet sommer gou wanneer hulle blom. Die aroma van hierdie blomme hang sommer swaar in die tuin teen laatmiddag. Met hierdie nagtelike aroma lok frangipani’s die ‘sphinx’ motte na die tuin om die blomme te bestuif.

Frangipani bome groei aan ‘n dik gladde vetplantgtige stam met sterk sytakke en het ‘n sambreel vorm. Die blare is lank en ovaalvormig met sterk are in die middel en sy-are aan die kante. Blare is donkergroen en sit aan ‘n klein stingeltjie aan die takke. Hierdie klein stingeltjie breek maklik af, maar die blaar self is leeragtig.

Die blomme se kleure wissel van kleure, wit met die geel, pienk met die geel en daar is ook soveel nuwe kleure en almal is welriekend en mens wil net gedurig aan hulle vat en ruik.

Om voort te plant, kan ons dit met afgesnyde takke doen en die takke kan vir tot twee weke lê voordat dit geplant word, direk in die grond. Hulle groei sommer vinnig. Wees versigtig, want waar jy die trossie blomme afsny of ‘n tak afsny, kom daar ‘n wit melksap uit en dit is toksies. Dit kan erge velirritasies veroorsaak, werk dus met handskoene en was die hande met seep en skoon water af. Moenie dat hierdie sap op enige manier in die oë beland nie. Indien dit gebeur, spoel dadelik jou oë baie goed met skoon water.

Plant frangipani’s in volson en sanderige grond. Hierdie struike aard baie goed langs die kus en in ander tropiese en warm gebiede. Hulle blom van September tot laat in die herfs. Frangipani’s is droogtebestand, maar is rypgevoelig en kry sommer maklik in baie koue gebiede rypskade en gaan dan dood. Die blomme is goeie snyblomme en maak oulike tafelruikers en ook bruidsruikers. Dit hou nogal lank in water. Frangipani’s word ongeveer 3 meter hoog en die takke versprei ook wyd.

Tuiniers, vra die bure vir ‘n takkie en plant dit en laat daar blomme in die tuin wees. Geniet u tuin tot volgende keer.