Een regter in hofsaak teen Kataloniërs

Byna al die sake teen die separatiste van Katalonië wat betrokke was by die onafhanklikheidsverklaring van die streek, sal deur dieselfde regter verhoor word in die Spaanse hooggeregshof.

Benewens verskeie ministers sal die president, Carles Puigdemont, se saak ook deur dieselfde regter aangehoor word weens hulle betrokkenheid by die onafhanklikheid referendum en die verklaring wat daarna bekend gemaak is dat die streek onafhanklik en nie meer deel van Spanje is nie.

Die separatiste word deur die Spaanse regering aangekla van ’n rebellie, maar kenners wys daarop dat daar geen geweld was nie, behalwe op stemdag toe die polisie gewelddadig opgetree het teen onskuldige mense wat gaan stem het.

Skuldigbevinding aan deelname van ’n rebellie kan lei tot 30 jaar tronkstraf, maar waarnemers meen die sogenaamde skuldiges sal hoogstens ses jaar elk gestraf word.

Die minderheidsregering van Spanje het aanvanklik botweg geweier om met die separatiste te onderhandel, maar het verlede week gesê hy is bereid om te onderhandel en Katalonië groter outonomie te bied,  wat ondermeer ’n eie belastingstelsel en eie finansiële departement sal beteken, en wil dit wat in Baskeland toegestaan is, ook vir Katalonië bied.

Intussen protesteer Kataloniërs teen die aanhouding en vervolging van hulle leiers en eis dat hulle onvoorwaardelik vrygelaat moet word.