Duisende liter olie besoedel VSA

In die Amerikaanse deelstaat Suid Dakota waar die Keystone oliepyplyn miljoene liters olie vervoer het ’n krisis ontstaan toe 795 000 liter die aarde besoedel het weens ’n lekplek in die pype.

Die pyplyn is glo verlede Vrydagaand afgesluit nadat vasgestel is dat duisende liters ru olie gelek het en ’n wye gebied besoedel het.

Dit is nog onduidelik wat die lekkasie veroorsaak het, maar ’n ondersoekspan is besig om die pyplyn na te gaan en vas te stel of daar moontlik ook ander lekplekke kan wees.

Kommer bestaan oor die lek omdat die grootste hoeveelheid olie na landbougrond gevloei het, maar woordvoerders van die owerheid reken daar is geen gevaar dat die lekkasie enige gesondheidsrisiko inhou nie.

TransCanada Corp, die eienaars van die reuse pyplyn, is egter verantwoordelik vir die besoedeling en sal derhalwe die opruiming moet hanteer tot bevrediging van die owerheid in Dakota.