Donker Kersfees oor krag

Suid-Afrika gaan ‘n donker Kersfees ervaar weens menige munisipaliteite se wanbestuur en die feit dat hulle nie hul betalingsooreenkomste met Eskom nakom nie, sê Wouter Wessels, VF Plus-lid van die Vrystaatse provinsiale wetgewer.

Wessels het na afloop van ‘n gesamentlike finansiële komitee-vergadering in die parlement gesê weens Eskom se wanbestuur en munisipaliteite se hoë uitstaande skuld aan Eskom, staar die elektrisiteitsverskaffer bankrotskap in die gesig en die enigste redding, volgens Nasionale Tesourie, is ʼn voorgestelde elektrisiteitsprysverhoging van 19%.

Hy sê dit is duidelik dat munisipaliteite in Suid-Afrika oor die algemeen onvolhoubaar is en dat die probleme nie weens ‘n tekort aan fondse veroorsaak word nie, maar eerder die gevolg is van swak bestuur en ‘n tekort aan politieke wil.

“Die voorgestelde elektrisiteittariefverhoging waarvoor Eskom by die Nasionale Energiereguleerder (NERSA) aansoek gedoen het, sal tot erge verarming en verhoogde wanbetaling lei.

“Die VF Plus beskou dit as onbillik en onaanvaarbaar dat betalende elektrisiteitsverbruikers gestraf word met onbillike tariefverhogings as gevolg van Eskom se wanbestuur.

“Menige munisipaliteit gaan tans gebuk onder beurtkrag weens wanbetaling aan Eskom en baie ander wat nie hul betalingsooreenkomste nakom nie, gaan binnekort ook donkerte ervaar.

“Suid-Afrikaanse munisipaliteite skuld hul krediteure meer as R43 miljard. Uitstaande debiteure van munisipaliteite beloop R128 miljard en die staat skuld munisipaliteite R7 miljard. Van die 19 munisipaliteite wat wel ‘n surplus toon, kom meer as die helfte nie hul betalingsooreenkoms met Eskom na nie,” sê mnr. Wessels.