Columbië polisie konfiskeer tonne kokaïen

Die polisie in die Suid-Amerikaanse staat Columbië het beslag gelê op ’n reuse besending kokaïen wat tot hede beskou word as die grootste besending dwelmmiddels wat nog gevind is.

Die polisie het die besending van net meer as 12 metrieke ton kokaïen se straatwaarde op $360 miljoen gestel.

President Santos het sy tevredenheid uitgespreek en die polisie geloof vir hulle geduld en kalm optrede wat uiteindelik gelei het tot die arrestasie van die smouse.

President Santos het aan verslaggewers gesê dit is die grootste besending kokaïen wat gevind is sedert die ontstaan van ’n spesiale eenheid in die land se polisiemag.

Sowat 400 polisiebeamptes het deurlopend gewerk om die skurke vas te trek en daarmee ook voorkom dat die reuse besending onder dwelmsmouse beland.

Die hoof van die polisie sê die operasie is reeds ’n jaar gelede beplan omdat wenke ontvang is dat so ’n besending vanjaar uit die land gesmokkel gaan word.

Hy sê die kokaïen het behoort aan Columbië se mees gesoekte dwelmbaas, Dario Antonio Usuga, wat verantwoordelik is vir 70% van alle dwelms wat in Columbië geproduseer word.