Bloudisseldoring, mooi maar ‘n indringerplant

Ecium plantagineum of bloudisseldoring, is ‘n kategorie 1b indringerplant. Dit beteken ongelukkig dat dit van jou eiendom verwyder moet word om vervolging te voorkom.  Hierdie plante het problematies geword omdat hulle meeding met gewasse wat skaars is, weiding en ander inheemse spesies wat grond laat herstel. Die plant is ook giftig en ‘n irritant. Hierdie plante is ‘n groot probleem oral in die land.

Bloudisseldoring  is ‘n pragtige plant en dra ook die mooiste blomme. Dit is ‘n tweejarige plant en dra hierdie blou of pers blomme van Oktober tot April. Baie tuiniers wil dit graag in hulle tuine plant omdat dit so welig groei en oorvloedig blom vir lang tydperke.

Dit het ‘n baie diep wortelstelsel en is nie maklik om uit te roei nie. Sy blare en stele is bedek met growwe wit hare. Bloudissel plante word tot 1 meter hoog en het regop stingels waaraan die klein blaartjies en blomme groei. Die blommetjies lyk baie na klokkies. en die blare is smal sonder opmerksame are. Die plant staan ook bekend as natterkop. Die plant is ongelukkig giftig en versprei baie maklik met saad. Die blomme het lang stuifmeeldrade wat die blomvertoning nog mooier maak.

Bloudissel kom oorspronklik van Europa en Asië af. Die plant is oorspronklik net vir sy ornamentele waarde geplant en het geen ander doel nie.

Tuiniers, kom ons raak maar van die indringerplante ontslae al is hulle ook soms mooi. Geniet u tuin tot volgende keer.