Bloemfonteiners sonder water maar met rekening

Inwoners van veral die suidelike deel van Bloemfontein is weer erg verontrief nadat nog ‘n waterpyp gebars het.

Bloemwater mag nie die inwoners van Bloemfontein in die Mangaung-metro finansieel verantwoordelik hou vir ‘n verlies aan inkomste gedurende die vyfdaagse waterkrisis wat die stad tans ervaar nie, sê dr. Elizabeth Snyman van Deventer, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metroraad.

“Die verlies aan inkomste weens die waterlekkasies en water wat gedurende die krisis aan inwoners by waterpunte verskaf is, is vir die watervoorsiener, Bloemwater, se rekening.

“Die soveelste watertekort in Bloemfontein die afgelope paar jaar vind plaas te midde van gevaarlike lae damvlakke en ‘n droogte. Gebrekkige instandhouding deur die metro se waterverskaffer, Bloemwater, dra by tot die waterkrisis wat die stad die afgelope week lamgelê het.

“Ons wil weet hoeveel water verlore gegaan het, wat die finansiële implikasie van die krisis vir Bloemwater sal wees en of belastingbetalers verantwoordelik gehou sal word vir Bloemwater se onvermoë om die waterinfrastruktuur in stand te hou.

“Gebrekkige of verouderde waterinfrastruktuur is net nie meer ‘n aanvaarbare verskoning vir die metro se voortslepende waterprobleme is nie.

“Inwoners spaar reeds water soos deur die nasionale departement van waterwese voorgeskryf word en betaal ook verhoogde watertariewe as besparingsmaatreël”, sê dr. Van Deventer.

Foto: Dr. Elizabeth Snyman van Deventer