Bitcoin spring deur die dak

Die Bitcoin digitale munt se waarde was ’n jaar gelede sowat R13 000 per eenheid, ’n maand gelede was die waarde op R55 000 en ’n week gelede het dit ’n rekordvlak van net meer as R80 000 bereik.

Nou het die Bitcoin se waarde letterlik deur die dak gegaan toe dit Donderdag op R91 000 per eenheid te staan gekom het.

Te midde van die geweldige styging in die waarde, bly bankiers en senior ekonome versigtig om nie te betrokke te raak nie, maar daar is ook diegene wat sê hulle “skep as die pap reën”.

Deskundiges sê die afgelope twee weke se styging maak dit ’n aantreklike belegging vir spekulante wat klaarblyklik nou met mening deelneem, met die hoop dat die eenheid in Desember die R120 000 merk sal verbysteek.