Argentynse duikboot steeds soek

Die tyd is besig om min te word om die 44 manskappe in die duikboot van Argentinië te red wat nou reeds ’n week lank gesoek word.

Die hoofwoordvoerder van die vloot sê die seine wat onverwags ontvang is, behoort nie aan die duikboot wat weggeraak het nie.

Die woordvoerder, Enrique Balbi, het aan verslaggewers in Buenos Aires gesê die sewe lae frekwensie seine wat ontvang is deur die Argentynse vlootbasis, is nie afkomstig gewees van die duikboot wat nou reeds ’n week gesoek word nie.

Die seine wat opgevang is, het die hoop laat opflikker dat die 44 manskappe tog uiteindelik gevind gaan word, maar nou bestaan daar ernstige kommer dat hulle nie betyds gevind sal word voordat die suurstof opraak nie.

Verskeie lande het aangebied om te help met die soektog, maar tot hede is niks gevind wat selfs as ’n moontlike spoor gevolg kan word nie.