ANC leierskonferensie reeds omstrede

Die aanwysing van die nuwe leiers vir die ANC is reeds in omstredenheid gedompel en besig om te ontaard in ‘n algehele klug.

Jacob Zuma het al die kandidate wat meeding op hom op te volg, vir ‘n ete by sy huis genooi en hulle gevra dat die konferensie volgende maand ordelik moet geskied.

Intussen wys provinsiale takke hulle voorkeurkandidate aan. In die Wes-Kaap het Cyril Ramaphosa met die meeste stemme weggestap nadat hy die steun van 121 van die 145 wettige takke gekry het, teenoor die slegs 13 van Nkosazana Dlamini-Zuma. Die Wes-Kaap wil ook Lindiwe Sisulu as adjunkpresident hê.

Alhoewel dit lyk of Ramaphosa voorloop, word daar openlik gepraat van “fopstemme” wat by die konferensie van die ANC anders kan stem, die feit dat intimidasie by die konferensie verwag word, en daar word ook openlik bespiegel dat afgevaardigdes by die konferensie omgekoop kan word ten gunste van ‘n kandidaat.

Uiteindelik blyk dit dus die kandidaat met die sterkste beursie te wees wat die skaal kan swaai. Is dit Ramaphosa se rykdomme uit sy swart bevoordeelde sake-bedrywighede, of Dlamini-Zuma met haar eksman se gekaapte staatskas?

Foto: Jacob Zuma onthaal die kandidate wat graag sy sagte stoel wil oorneem