Vryheidsvlam spring op in Italië

Dit is nie net Katalonië en die Koerde wat smag na onafhanklikheid nie, want Sondag het die kiesers van Lombardye en Veneto in Italië ook na die stembus gegaan om in ’n referendum te kies vir of teen onafhanklikheid.

Die twee deelstate in Italië wat in die noorde van die land geleë is, strewe reeds vir jare na ’n eie onafhanklike staat, maar nou het leiers in die twee streke die strewe meer konkreet gemaak met elkeen wat ’n referendum oor onafhanklikheid gehou het die afgelope naweek.

Beide Veneto en Lombardye is in die mees welvarende deel van Italië geleë, en eis nou groter outonomie oor hulle finansies en algemene administrasie.

Die vloedgolf het begin toe Skotland ’n verkiesing gehou het, daarna het Katalonië met veel groter drif sy onafhanklikheid benader, en nou volg Veneto en Lombardye.

Politieke waarnemers sê die kiesers van Veneto en Lombardye sal aanvanklik nie onafhanklikheid eis nie, maar wel groter outonome regte, wat uiteindelik kan lei tot afskeiding.

Beide gebiede het vroeër wel ’n veldtog vir onafhanklikheid gevoer, maar die weerstand was te groot terwyl baie kiesers eers net groter seggenskap opeis.

Die twee streke word deur een goewerneur regeer, en die huidige goewerneur wat sterk ten gunste van afskeiding is, wil met die eerste referendum van die afgelope naweek die gevoel van kiesers toets.

Die uitslag was in beide streke gunstig, en dialoog met die Italiaanse regering sal eersdaags begin word om groter seggenskap aan die twee streke te beding.

Liberale elemente in Italië meen die referendums, wat meer as 55 miljoen euro kos, was onnodig omdat die goewerneur die reg het om dialoog te voer met die regering oor groter seggenskap.

Kenners sê die separatiste volg net die roete wat internasionaal erken word, wat uiteindelik kan lei tot onafhanklikheid.

Foto – Bekende gesig in Milaan, Lombardye