Vrae rondom Zuma se skommeling

Die land se regeerder het weereens sy dolosse, geskommel.

Die nuutste skommeling van die kabinet beteken dat Blade Nzimande van die SAKP die mes ingelê is, terwyl Buti Manamela, nasionale sekretaris van die Jong Kommunisteliga, as adjunkminister van Hoër Onderwys aangestel is. Hierdie skuif is gemaak om die SAKP te paai.

David Mahlobo van staatsekuriteit se skuif na energie word gesien as ‘n stap om die aanbou van kernkragreaktors deur te druk. Mahlobo was saam met Zuma Rusland toe om kernooreenkomste te ondersoek.

Politieke ontleders sien die skommeling as ‘n poging om mag te konsolideer voor die ANC se Desember konferensie.

Ontleders is egter verras dat hy nie sy eks-vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma ingetrek het in die kabinet nie, maar al hoe meer gerugte doen die rondte dat Zuma, soos in die geval van Pravin Gordhan, een of ander omstrede intelligensieverslag gaan gebruik om van sy adjunk, Cyril Ramaphosa, ontlsae te raak. Zuma het reeds die klimaat daarvoor begin skep deur te sê dat Ramaphosa ‘n spioen vir die Weste is. Dan kan hy sy eks as adjunkpresident aanstel, word geglo.

Intussen het die SAKP Zuma aangevat oor Nzimande se afdanking en sê dat dit ‘n poging is om die SAKP stil te maak in hul stryd teen staatskaping.

Dr. Pieter Groenewald van VF Plus, sê dDie nuwe minister van staatsveiligheid, Bongani Bongo, is daar geplaas om seker te maak pres. Zuma hou steeds beheer oor dié agentskap en ander instelling om homself te beskerm, en om seker te maak hulle kan aangewend word tot die voordeel van die Zuma-faksie vir die 2019-verkiesing.

“Bongo is eintlik ʼn agterbanker wat eers in 2014 parlement toe gekom het en hy is ʼn onervare politikus. Tot dusver het die ANC hom hoofsaaklik aangewend vir parlementêre ad hoc-komitees soos vir die aanwys van die huidige Openbare Beskermer (OB) en nou weer vir die komitee gemoeid met die befondsing van politieke partye.

“Hy kom van Mpumalanga en dit wil voorkom of die president met sy skuif invloed probeer kry op die provinsie wat op een ná die meeste afgevaardigdes na die ANC se verkiesingskonferensie in Desember gaan stuur,” sê dr. Groenewald.

Foto: Blade Nzimande, uitgeskop