Venezuela probeer finansies regruk

Die president van Venezuela, Nicolas Maduro, het sy minister van ekonomiese sake vervang en ook ’n nuwe voorsitter van die Sentrale Bank aangestel.

Die president het by wyse van ’n dekreet wat uitgevaardig is, die twee belangrike poste se verandering bekend gemaak.

Venezuela se haglike ekonomiese toestand sal egter nie maklik herstel word deur twee sleutelposte se ampsbekleërs te vervang nie, maar word algemeen as ’n positiewe stap beskou.

Die Suid-Amerikaanse olieryke staat gaan reeds etlike jare gebuk onder ’n swaar ekonomiese krisis, en toestande het sodanig versleg dat winkelrakke leeg is en medisyne nie beskikbaar is nie.

Maduro het Simon Zerpa, wat ‘n finansiële direkteur in die oliebedryf is, as minister van ekonomiese sake aangestel, maar hy word glo nie hoog aangeslaan deur die Amerikaanse regering nie.

Venezuela se inflasie sal na verwagting tot 1 400% styg in die komende boekjaar, wat die land tegnies bankrot sal laat.

Die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) voorspel dat die land se inflasie gaan styg tot ’n ongekende hoogte van 2 300%.

Foto – Nicolas Maduro