Spanje wil Artikel 155 aktiveer

Nadat die sperdatum vir Katalonië se terugvoer aan Madrid verstryk het, is die kantoor van die Spaanse eerste minister besig om ’n buitengewone vergadering te skeduleer om oorweging te gee aan herroeping van die Kataloniese outonomie ingevolge Artikel 155 van die grondwet.

Indien so ’n drastiese stap geneem sou word deur die Spaanse regering, kan ernstige konflik ontstaan, maar die leiers in Katalonië het tot hede alles moontlik gedoen om konflik met Spanje te vermy.

Die woordestryd tussen die twee leiers het die afgelope drie weke gevaarlike uitlatings vanuit Madrid teweeggebring, maar dit lyk of president Puigdemont van Katalonië sy woorde versigtig kies.

Indien Spanje wel Artikel 155 in werking stel, sal dit die eerste keer in die geskiedenis van die land wees dat ’n streeksregering se outonomiteit herroep word.

President Puigdemont het egter tydens ’n vergadering aan kiesers van Barcelona gesê hy sal Katalonië dadelik onafhanklik verklaar indien  Spanje die streek se outonomie herroep.

Premier Mariano Rajoy het intussen bevestig dat ’n spesiale kabinetsvergadering belê is vir Saterdag om die krisis te bespreek.

Foto – Mariano Rajoy