Spanje neem beheer oor Puigdemont se amp

Die Spaanse premier, Mariano Rajoy, het die afgelope naweek aangekondig dat hy amptelik die beheer oorgeneem het oor die werksaamhede van president Carles Puigdemont van die onafhanklike Republiek van Katalonië.

Kort na die aankondiging word bekendgemaak dat sy adjunkpremier, Soraya Saenz de Santamaria, in beheer van Katalonië sal wees.

Volgens die eerste minister van Spanje is die president van Katalonië uit sy amp ontslaan nadat hy die streek as onafhanklik van Spanje verklaar het.

In gevolge ’n berig in die Spaanse staatskoerant is al die ander lede van die Kataloniese parlement wat ten gunste van onafhanklikheid is, ook afgesit.

Die Spaanse minister van binnelandse sake het ook in die staatskoerant aangekondig dat hy die Kataloniese polisiehoof, Josep Lluis Trapero, vervang.

Die optrede volg nadat die Spaanse Senaat verlede Vrydag, kort nadat die streek sy onafhanklikheid aangekondig het, goedkeuring gegee het dat die regering beheer oor Katalonië neem ingevolge Artikel 155 van die land se Grondwet.

Spanje het besluit om ’n streek verkiesing te hou op 21 Desember met die verwagting om ’n anti-separatiste regering verkies te kry wat sal verseker dat die krisis daarmee afgesluit word.

President Carles Puigdemont het in ’n TV uitsending vanaf ’n onbekende sender die burgers van die Kataloniese Republiek gemaan tot kalmte en hulle versoek om in gehoorsaamheid die werk van die Republiek in kalmte voort te sit.

Foto – Soraya Saenz de Santamaria