Spaanse polisie lê beslag op stembriewe

Die Spaanse burgermag het die afgelope naweek by ’n woonhuis in Barcelona opgedaag en 2,5 miljoen Kataloniese referendum stembriewe gekonfiskeer.

Dit volg twee dae voor die beplande referendum wat op 1 Oktober sou plaasvind, maar Kataloniërs sê hulle sal nie gestuit word nie.

Die Spaanse Rykswag het ook op 4 miljoen stembriewe beslag gelê  en sowat 100 stemlokale gesluit.

Die minderheidsregering in Madrid doen alles moontlik om te voorkom dat die Kataloniërs hul demokratiese reg uitoefen deur ’n referendum te hou oor moontlike onafhanklikheid, wat afskeiding van Spanje beteken.

Madrid het reeds in verskeie media onderhoude en persverklarings gesê die beoogde referendum is onwettig en ongrondwetlik, maar die Kataloniërs sê die Spaanse regering ontneem hulle die reg om demokraties op te tree.

Die kiesers het in reaksie op die sluiting van stembusse, in massas opgeruk na stemlokale en dit beset sodat dit nie toeganklik is vir die geregsdienaars nie.