Skerp daling in wêreld wynproduksie

Die wêreldwye wynproduksie het aansienlik gedaal en toon ’n algemene daling van meer as 8% teenoor die vorige jaar se opbrengs.

Volgens die internasionale statistieke was vanjaar se produksie die laagste wat nog aangeteken is vir die afgelope 60 jaar.

Die daling word toegeskryf aan die uiters teleurstellende opbrengs in die noordelike lande soos Kanada en Europa, maar die suidelike lande soos Suid-Afrika kon daarin slaag om ’n goeie styging te toon.

Uiters ongunstige weerstoestande in veral Europa het wynproduksie in Spanje, Italië en Frankryk tot sy laagste vlakke laat daal.

Volgens die statistiekdiens het die drie lande se produksie gedaal tot die vlak wat dit in 1961 was, en die Internasionale Organisasie vir Wynproduksie het bevestig dat dit ’n besonder swak jaar was.

In Italië het die produksie met 23% gedaal tot net meer as 39 hektoliter en in Frankryk is 19% minder geproduseer tot 37 miljoen hektoliter.

Spanje hê ’n daling van 15% getoon wat beteken dat 34 miljoen hektoliter geproduseer is.

In Argentinië, wat in die suidelike streek geleë is, het produksie met meer as 25% gestyg en in Australië was die styging slegs 6%

Weersomstandighede het die vierde grootste wynproduserende land, Amerika, ernstig geknel en is ’n geringe styging van slegs een persent in produksie aangeteken.

Suid-Afrika, wat nog nie kon herstel van ’n ernstige droogte nie, het ’n geringe verbetering in produksie gehad en het net minder as 11 miljoen hektoliter gelewer.

Kommer bestaan dat ongunstige klimaatverandering, groot veldbrande soos in die wynstreek van die VSA, weer ’n groot daling in produksie kan veroorsaak, wat die eenheidsprys kan laat styg.