Sjina hou vyfjaarlikse kongres

Die kommunistiese president Xi Jinping van Sjina het Woensdag die 19 de nasionale kongres van die Kommunistiese Party, wat vyfjaarliks gehou word, geopen met ’n lang toespraak.

Hy het in die openingstoespraak verwys na sy eerste vyf jaar as staatshoof, maar benadruk dat toekomstige uitdagings wag.

Die “ondermyning” van die Kommunistiese Party en die Sjinese ekonomie is twee van die belangrikste sake wat opgelos moet word, het hy gesê.

Die president het ook onder luide applous gesê die armoede vraagstuk in Sjina sal teen die jaar 2020 finaal opgelos wees.

Meer as 2 300 afgevaardigdes wat uit alle oorde van die land kom, woon die week lange kongres by wat onder swaar veiligheidsmaatreëls plaasvind.

Vanjaar se kongres is ook belangrik omdat ’n groot aantal lede van die Sentrale Komitee en die Politburo vervang moet word.

Na verwagting sal 10 van die 25 lede in die Politburo hulle terugtrek terwyl die Sentrale Komitee 200 van sy 375 lede vervang.

Die Staande Komitee van die Politburo, wat uit sewe lede bestaan, en die allerhoogste struktuur in die Sjinese politiek is, sal ook hersaamgestel word en word verwag dat vier lede vervang gaan word.

Waarnemers meen die veranderings in poste sal bydra tot die verdere versterking van Xi Jinping se mag as leier van Sjina.