Sesbania punicea bekende indringerplant

 

Sesbania punicea word ook die “Spanish gold” of “rattle box” of die “rooikeurtjie” genoem. Dit is ‘n baie ornamentele plant maar ongelukkig is dit ‘n indringerplant ‘n kategorie 1b wat beteken dat u vervolg kan word indien dit in u tuin gevind word. Hierdie is landswyd ‘n probleem omdat dit met inheemse rivier- en vleilandspesies meeding en ook verdring. Sesbania punicea is in die familie Fabaceae. Hierdie plante kom oorspronklik van Brasilië, Argentinië, Paraguay en Uruguay af. Dit het versprei na dele in Afrika en is as ‘n onkruid verklaar.

Sesbania punicea is bladwisselend en word tot 4 meter hoog.  Hierdie plante hou van baie water en groei baie goed in enige tuin, veral naby waterstrome en tropiese gebiede. Die struike het lang skraal takke en hangende groen blare wat saamgestel is uit klein, skerpgepunte blaartjies aan al die kante van die dun blaartakkie. Die helder rooi/oranje blomme verskyn tussen September en Maart en die blomtakkies word tot 25 cm lank. Klein blommetjies wat aan ertjieblomme laat dink, hang aan ‘n dun stingeltjie tussen al die groen blare en vertoon mooi. Na die blomtyd verskyn die kenmerkende bruin peule wat bruin sade binne-in dra wat oopskiet en versprei en onbeheers groei.

Tuiniers, dit is beter om hierdie plant dadelik uit te roei indien u dit in u tuin ontdek. Dit is ook giftig vir voëls en ander insekte en diere wat dalk ‘n happie wil kom neem. Indien ons dit inneem sal dit naarheid en diarree en ook asemhalingsprobleme veroorsaak. Roei dit liewer uit met wortel en tak.