Sal Spanje die Kataloniese republiek stuit?

Die nasionaliste van Katalonië  het ’n dringende parlementsitting gehou kort na die afloop van die onafhanklikheid referendum waartydens die opvolg strategie bekend gemaak is.

Die Kataloniërs wil blykbaar die druk bly toepas en kiesers het ’n groot algemene staking gehou om verset te toon teen die onverantwoordelike en gewelddadige optrede van die Spaanse polisie waartydens 840 mense beseer is.

Die staking is ook om die weg na die Kataloniese republiek te versterk, wat nou lyk asof Spanje se minderheidsregering nie daarin gaan slaag om die onafhanklikheid te keer nie.

Die Kataloniese president, Carles Puigdemont, het verklaar dat daar nie sprake is van ’n traumatiese breuk met Spanje nie, en wil graag in gesprek tree met die regering van premier Rajoy.

Puigdemont het ’n beroep op die Europese Unie gemaak om as bemiddelaar op te tree maar die liggaam is bang vir nog talle soortgelyke referendums wat tot onafhanklikheid kan lei, en het slegs aangekondig dat hulle nie betrokke sal raak nie “omdat hulle volle vertroue in premier Rajoy het” om die aangeleentheid te hanteer.

Waarnemers wys daarop dat Spanje se gewelddadige optrede, en Katalonië se netjiese hantering van sake, die hoofrede kan word waarom die Spaanse regering nie die onafhanklikheid gaan verhoed nie.

Die goedgesindheid van Europa is van belang vir Katalonië, maar of dit eensklaps gaan gebeur, word sterk betwyfel alhoewel lande soos Hongarye, Pole en Oostenryk wel die nuwe republiek sal erken en ondersteun.

Carles Puigdemont het beklemtoon dat hy ’n goeie verhouding met Spanje wil handhaaf, en vra dat dialoog tussen die twee begin word maar wys ook daarop dat die EU nie die werklikheid moet probeer ignoreer nie.

Premier Rajoy van Spanje se dreigement om die algehele bestuur van Katalonië oor te neem, kan lei tot ernstige konflik, maar politieke meningsvormers sê dat so ’n stap nie maklik toegepas kan word nie.

Foto – Carles Puigdemont