Russiese dame daag president Poetin

As die Kremlin gedink het hulle maak seker dat president Vladimir Poetin geen opponent het in die presidentsverkiesing van Maart 2018 nie, moet hulle kennis neem van die jongste verwikkelinge.

Die veiligheidsmagte het uit hulle pad gegaan om die amptelike opposisie se leier in ’n hof skuldig te kry sodat hy nie teen die president kan staan in die komende verkiesing nie.

Nou het ’n bekende Russiese televisiepersoonlikheid aangekondig dat sy die president gaan opponeer in die verkiesing.

Ksenia Sobtsjak is die dogter van president Poetin se voormalige mentor, en alhoewel sy nie ’n kans staan om die president te klop nie, behoort dit die moedelose opposisieparty weer te motiveer.

In ’n video-opname wat gemaak is en op die Internet versprei is, het die 35-jarige Ksenia Sobtsjak aangekondig dat sy haar reg as Russiese burger uitoefen en is beskikbaar as presidentskandidaat vir die verkiesing.

Ingevolge die Russiese grondwet moet ’n kandidaat vir die presidentsverkiesing minstens 35 jaar oud wees en nie aan enige misdryf skuldig bevind wees nie.

Sy is bewus daarvan dat die Kremlin nie huiwer om op te tree teen opponente wat kritiek lewer oor die president nie, en het glo besluit om direkte kritiek te vermy.

Foto – Ksenia Sobtsjak