Russe inisieer “kripto-roebel” teenoor bitcoin

Rusland wil die invloed van die virtuele geldeenheid, bitcoin, probeer uitskakel deur ’n alternatiewe Internet betaalmiddel, die kripto-roebel, as alternatief aan Russiese belangstellendes te verhandel.

Vir Rusland is die Internet betaalmiddel ’n nagmerrie wat dreig om duisende Russe te laat wegbeweeg van die roebel as betaalmiddel, en het as alternatief, die virtuele roebel vrygestel.

Of die kripto-roebel enige sukses sal behaal, sal die tyd leer, maar die bitcoin het in die afgelope tyd tot bykans R80 000 per eenheid gestyg in waarde, maar later weer effe teruggesak na R76 000 nadat dit vir etlike weke vasgesteek het by R60 000.

Die Russiese Minister van Kommunikasie het die virtuele geldeenheid, die kripto-roebel, bekendgestel terwyl die finansiële wêreld gekonfronteer word met die werklikheid en regerings bekommerd bly oor die nuwe verskynsel.

Die virtuele geldeenheid het aanvanklik weinig waarde gehad, en rekenaardeskundiges het daarmee begin speel as ’n vorm van tydverdryf, maar heel gou het veral die bitcoin se aansien gestyg en is die Internet oorlaai met gegewens oor hoe die stelsel as alternatiewe vorm van betaling kan dien in ’n wêreld van gereguleerde finansiële stelsels.

Intussen het die sentrale bankiers in Sjina, Amerika en Europa skerp kritiek gelewer teen die virtuele betaalmiddels, en nou het Rusland ook daarby aangesluit, maar hoop om met die kripto-roebel die Russiese kopers weg te hou van ander eenhede.

Kenners wys daarop dat Rusland met die optrede die ander lande voor is, want waar die geldeenheid nie sterk is nie, kan ’n eie virtuele betaalmiddel soos die van Rusland, die antwoord wees om die werklike geldeenheid, soos die roebel, te beskerm.

Foto – Russiese roebel