Oostenryk beweeg na regs

Die eerste berigte wat ontvang is, toon dat die konserwatiewe Sebastian Kurz se Volksparty net meer as 30% van die stemme op hom verenig het, en die nasionalistiese Vryheidsparty het uitstekend gevaar en net minder as 27% van die stemme getrek.

Dit beteken dat ’n nuwe koalisie van konserwatiewes en nasionaliste gevorm sal word met Sebastian Kurz wat op 31 jarige leeftyd Oostenryk se jongste kanselier word wat ooit verkies is.

Politieke ontleders in die land het hulle kommer uitgespreek dat ’n koalisie tussen die konserwatiewes en die nasionalistiese regses die sosialiste permanent uit die regering stoel sal hou.

Die verkiesing wat die afgelope naweek gehou is, is voorafgegaan deur ’n veldtog waar die onwettige immigrante, Europese Unie lidmaatskap, en patriotisme die meeste gebruik is om kiesers se stemme te trek.

Waarnemers wys daarop dat lede van die Europese Unie erg bekommerd is oor die Oostenrykse uitslae, aangesien die organisasie vroeër gesê het die nasionalistiese leiers moet bestry word.

President Emmanuel Macron van Frankryk het onlangs ernstige waarskuwings gerig tot die EU om versigtig te wees vir die nasionalistiese leiers van Europa.