Nog seniors verlaat AfD

Te midde van die redelike sukses wat die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland bereik het in die September algemene verkiesing, het die party begin verbrokkel met parlementslede wat bedank.

Verskeie sleutelpersone het die party verlaat in streke waar die party goed gedoen het in die verkiesing, en die vermoede bestaan dat hulle oorstap na die nuutgestigte Blou Party van dr. Frauke Petry.

Onbevestigde berigte dui daarop dat talle bedankings voortspruit uit die ekstremistiese houding van die nuwe leiers in die AfD, terwyl ander glo na die Blou Party gaan wat ook ’n nasionalistiese beleid volg, maar meer gematig is.

Petry het ’n dag na die verkiesing, tydens ’n partykonferensie van die AfD,  aangekondig dat sy bedank, en het onmiddellik die lokaal verlaat.

Tien dae later is bekendgemaak dat ‘n prominente lid van AfD, Mario Mieruch ook bedank het en aansluiting vind by die Blou Party.

Toe die Blou Party sy funksies op die sosiale netwerk begin propageer, het die bedankings uit AfD vanuit die verskillende streke gevolg.

Dr. Petry het op die sosiale netwerk gesê die Blou Party is ’n party vir kulturele patriotisme wat nie die grense van nasionalisme sal oorskry nie, wat talle AfD leiers klaarblyklik wil volg.

Volgens die media in Duitsland het 26 van die party se leiersfigure reeds bedank sedert dr. Petry se nuwe party gestig is.

Foto – Dr. Frauke Petry