Nieu-Seeland se nuwe premier ingesweer

Die linkse Jacinda Ardern, leier van die Arbeidersparty in Nieu-Seeland, het daarin geslaag om met die nasionalistiese party, die Nieu-Seeland Eerste, (NSE) ’n koalisieregering saam te stel en daarmee die Nasionale Party in die opposisiebanke laat beland.

Jacinda Ardern het reeds as eerste minister die eed afgelê by die goewerneur-generaal, Patsy Reddy, wat as verteenwoordiger van die Britse koningin Elisabeth II optree.

Die verkiesing in Nieu-Seeland het vreemde kinkels gemaak en kenners vind dit merkwaardig dat die nasionalistiese NSE steun gekry het van die linkse Groenes, wat uiteindelik gelei het tot ’n koalisie met die Arbeiders.

In die verkiesing van 23 September kon die konserwatiewe Nasionale Party slegs 44% van die stemme op hom verenig, en die Arbeiders het met 43,2% ’n gelykop uitslag bewerkstellig, en die “beste onderhandelaar” met die nasionalistiese NSE slaag daarin om ’n koalisieregering saam te stel.

Waarnemers sê die linkse Arbeiders moes waarskynlik aansienlike toegewings maak aan die NSE om te verseker dat hulle die bewind oorneem.

Die NSE het slegs 7% van die stemme getrek, maar het daarmee die hef in die hand gekry om te bepaal wie die land saam met hom regeer.

Foto – Jacinda Ardern