Motorrubriek – Honda CR-V 1.5T awd Exclusive

 

Die nuwe Honda CR-V awd Exclusive is die vyfde in die reeks wat beskikbaar gestel is. Alhoewel daar ‘n aansienlike prysverhoging is, is dit nogtans die moeite werd. Veral as daar gekyk word na die veranderings wat in die nuwe voertuig aangebring is.

Dit is groter, veiliger, die bakwerk is meer ferm, meer modern, vinniger, meer ekonomies, die padgedrag is beter, die afwerking is van ‘n beter gehalte ensovoorts. Met al hierdie veranderings in gedagte, kan ‘n mens nie anders as om dit te wil aanskaf nie.

Dit is gemonteer op die onderstel van die CR-V reeks en dit maak dit 58 mm langer, 35 mm breër, en 25 mm hoër. Met al hierdie veranderings aangebring is daar meer ruimte binne in die kajuit, gemakliker sitplek, meer beenruimte voor en agter, meer plek vir die voete van die agterste passasiers en die wielspoor mate het derhalwe ook verander. Dit het tot gevolg dat die padhouvermoë wat al reeds van hoogstaande gehalte was, nog verder verbeter het.

Die veiligheid is ook nie agterweë gelaat nie. Die skyfrem skywe op al vier wiele se grootte is vermeerder, dieselfde hoeveelheid lugsakke is in plek en ‘n nuwe stelsel bekend as AHA is geïnstalleer. Die stelsel werk op die beginsel dat wanneer daar na byvoorbeeld regs gedraai word, word daar meer wringkrag na die regterkantse wiele oorgedra met die gevolg dat die padhouvermoë verbeter. Dieselfde gebeur wanneer daar gerem word, indien daar na byvoorbeeld regs gedraai word. Dan word daar meer remkrag op regterkantse wiele toegepas.

Wat die kragbron aanbetref is daar ook ‘n verbetering en die 2 liter turbo aangejaagde, inlyn, vier silinder, dubbel oorhoofse nokas, 16 klep enjin se krag is 140 kW teen 5600 o.p.m en die wringkrag is 240 Nm tussen 2000 en 5000 o.p.m. Volgens ingeligte bronne stel dit die motor in staat om van 0 tot 100 km/u. te versnel in 9,2 sekondes en die topsnelheid is 192 km/u.

Die krag oordrag na al vier die wiele vind plaas by wyse van ‘n CVT outomatiese ratkas wat seepglad oorskakel  en wanneer meer krag aangewend word en die ratkas terug skakel na ‘n laer rat, vind dit plaas sonder dat die kragbron se toere merkbaar verhoog word. Selfs wanneer daar op ruwe terrein gereis word of in nat toestande, vind alles seepglad plaas. Terugskakeling van die ratkas in bogenoemde toestande word sonder ‘n geraas of die opjaag van toere gedoen.

Krag verspreiding na die agterwiele soos benodig vind outomaties plaas en met die minimum wiel glip.

Binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en die toerusting op die instrumentpaneel bevat al die toerusting wat benodig word vir die gerief van die insittendes soos ‘n lugversorger, radio, aanraak skerm ensomeer.

Die buite-afwerking word gekenmerk deur die bekende Honda embleem op die sierrooster. Die kolligte vorm deel van die onderste lug inlate en die sierlike buitelyne van die bakwerk en die allooi wielnawe, sorg dat die afwerking bykans volmaak is. Aan die agterkant maak die kattebak deksel tot ‘n gerieflike hoogte oop en aan die binnekant is daar ringe gemonteer waaraan goedere vasgemaak kan word. Die agterste sitplek leunings vou plat gelyk met die vloer in ‘n verhouding van 1/3:2/3 en wanneer platgevou is, is daar aansienlik meer pakplek beskikbaar.

Hierdie is die ideale voertuig vir die natuur liefhebber en sal verseker voldoen aan al die vereistes wat gestel word vir ‘n besoek aan byvoorbeeld die wildtuin.

U kan gerus u naaste Honda handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetrit neem.