Kataloniese leiers soek asiel

Die afgesette president Carles Puigdemont van Katalonië en sowat vyf ander leiersfigure uit die streek is tans in België, klaarblyklik met die bedoeling om asiel te vra.

Volgens die koerant “De Morgen”, wat beweer dat bevestiging uit Belgiese regeringsbronne verkry is, het Puigdemont in Brussel aangekom, en word hy vergesel van vyf van sy ministers wat saam met hom in die kabinet gedien het.

Volgens die regeringsbronne is hulle nie seker wat hy in Brussel wil doen nie, maar politieke waarnemers vermoed dat hy vanuit Brussel asiel sal soek in een van die Europese lande.

Die Belgiese eerste minister, Charles Michel, het blykbaar sy ministers opdrag gegee om onder geen omstandighede kontak te maak met die afgesette kabinetslede van Katalonië nie.

Die Spaanse regering is ernstig om die ses mans voor die hof te daag weens hulle poging om as rebelle ’n deel van Spanje te vervreem van die land en sy mense.

Foto – Carles Puigdmont