Kataloniërs weier “oorgawe”

Terwyl Madrid bereid is om tot vandag te wag op ’n JA of NEE van Katalonië as duidelike antwoord of die streek wel onafhanklikheid verklaar het al dan nie, het derduisende Kataloniërs in die strate van Barcelona geëis dat hulle vryheid erken moet word.

Die Spaanse minderheidsregering van premier Rajoy het versoek dat Katalonië die onduidelikheid moet opklaar oor die streek se president wat verlede week verklaar het dat Katalonië onafhanklik is maar dat die onafhanklikheid uitgestel word om op egte demokratiese wyse te onderhandel met Madrid.

Die Spaanse regering het dit verwerp en uiteindelik grasie gegee aan Katalonië se president Puigdemond om Donderdag te sê wat Katalonië se status is.

In antwoord daarop het sowat 300 000 kiesers met slagspreuke, vlae en baniere in die strate van Barcelona saamgekom en aanhoudend soos ’n massakoor hulle eis gestel dat die twee leiers van hulle volk vrygelaat word wat deur die Spanje verhoor is.

Die twee leiers wat voorsitters is van twee onafhanklikheid organisasies in Katalonië, is vroeër in hegtenis geneem en deur die Spaanse hof tot tronkstraf gevonnis.

Die Spaanse owerheid het blykbaar geswig voor die druk, en die twee leiers is later op borgtog vrygelaat.

Intussen het een van die Kataloniese leiers, Jordi Turull, gesê die Spaanse regering dink verniet dat hulle ’n sperdatum kan afdwing, want die regering van Katalonië gaan nie sommer “oorgee” nie.

Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, sê die instruksie om Katalonië se regering op te skort, is gereed om tot uitvoer gebring te word. Hy het ’n oproep tot Katalonië se president, Carles Puigdemont, gerig om “verstandig te wees” en die referendum as nietig te verklaar.