Katalonië se outonomie beëindig

Spaanse ministers sal van Maandag, 23 Oktober, die beheer oorneem van die deelstaat Katalonië en sal die gebied bestuur tot ’n nuwe verkiesing vir die streek gehou is wat binne die volgende ses maande sal wees.

Honderde duisende separatiste het die strate van Barcelona ingevaar en vreedsaam geprotesteer teen die besluit, terwyl president Puigdemont na die besluit verwys het as ’n staatsgreep deur Spanje.

Spanje voer die drastiese stap uit ingevolge Artikel 155 van sy grondwet, en pas dit direk toe op Katalonië, wat die eerste deelstaat is waarop die bepaling toegepas word.

Die president van die streek, Carles Puigdemont, het vroeër in die streek se parlement aangekondig dat Katalonië onafhanklik word, maar dat dit effektief eers later in werking gestel sal word nadat behoorlike dialoog met Spanje gevoer is.

Die regering van Spanje is egter nie daarvoor te vinde nie, en het gevolglik sy magte gebruik om die huidige regering in die streek te vervang en self met sy ministers die bestuur oor te neem tot ’n volgende verkiesing gehou is.

Intussen moet Spanje maatreëls in plek kry om die 17 000 polisie, 20 000 amptenare en talle ander werkers onder hulle beheer te kry.

Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, sê Spanje voer net sy regte uit, maar die derduisende kiesers in die strate van Barcelona vertel ’n ander verhaal.

Kataloniese parlementariërs sê toe Spanje in 1981 ’n militêre staatsgreep in die gesig gestaar het, was dit Kataloniërs wat ingegryp het om Spanje staande te hou as demokrasie en toe ook lank gewag voor daar oorgegaan is om onafhanklik te word op ’n demokraties wyse.

“Dit is die dank wat ons daarvoor kry”, is gesê.