Jemen staan voor nog ’n ramp

Dit is nie net die langdurige oorlog in die Midde-Oosterse land Jemen wat die land knel nie, maar ’n veel groter gevaar wag op die 25 miljoen inwoners as ’n cholera epidemie die land nou tref.

Alhoewel die oorlog in Jemen nie veel aandag trek vanweë die aard en oorsprong daarvan nie, is dit waarskynlik ’n veel erger situasie as wat in Sirië die geval is, maar kry feitlik geen publisiteit in die Westerse media nie. Anders as elders in die Midde-Ooste, word Jemen uitmekaar geskiet in ’n burgeroorlog wat reeds etlike jare duur, maar die verwagte uitbreking van cholera kan meer as ’n miljoen mense na hulle dood dryf, is vasgestel deur ’n internasionale montering span.

Die stryd in Jemen word die een kant, rebellemagte, deur Iran ondersteun, vanwaar die beskuldiging ook kom dat Iran die terroristebeweging steun, en aan die anderkant steun die buurstaat Saoedi-Arabië die Jemen regeringsmagte.

Terwyl meer as drie miljoen inwoners van Jemen totaal ontwrig is weens die oorlog, het sowat 12 000 mense met hulle lewens betaal vir die geweld.

Meer as 80% van die inwoners ly reeds aan siektes wat verwant is aan die ondervoeding wat ondervind word, en het dringende mediese hulp nodig waaroor die land nie beskik nie, terwyl skoon water slegs vir ’n klein persentasie beskikbaar is.