Irak isoleer Koerdiese lughawens

Na die oorweldigende meerderheid van die Koerdiese kiesers in Irak wat ten gunste van onafhanklikheid gestem het in verlede week se referendum, het die Irakse regering die lughawens van die streek geïsoleer en geen vlugte daarheen toegelaat nie.

Die regering is ook met ander maatreëls besig om die Koerdiese leiers te verhoed om onafhanklikheid te verklaar vir die streek in die noorde van die land.

Bagdad het gewaarsku dat militêre optrede kan volg, waarna Turkye dieselfde waarskuwing tot die Koerde gerig het.

Anders as wat Spanje se optrede in Katalonië is, het die Irakse weermag nog nie probeer om die ervare soldate van die Koerde aan te val nie, en het selfs nie kans gesien om die stembusse tydens die referendum te konfiskeer nie.

Die internasionale verbod om op die lughawens in die Koerdiese streek te land, het verlede Vrydag van krag geword met die waarskuwing dat die Koerde teen daardie tyd hulle beoogde optrede moes staak.

Irbil, die hoofstad in die Koerdiese streek van Irak, sowel as die tweede grootste stad, Sulaimaniya, ontvang sedert die verbod ingestel is, geen vlugte nie, was die mededeling van die Irakse minister van vervoer.

Die eerste minister het ook geëis dat die Koerdiese leiers die beheer van die streek oorneem by die twee lughawens, maar die Koerde het tot hede nie daarop gereageer nie, behalwe om te sê dat die twee lughawens in Koerdiese gebied is en aan die Koerde behoort.

Amerika, die Verenigde Nasies, sowel as die Europese Unie het die referendum veroordeel, maar die Koerde is vasbeslote om hulle vryheid te vestig in die streek.

Foto –  Premier Haider al-Abadi