Franse wynboere word deesdae besteel

Swak weerstoestande gedurende Maart en April het Franse druiwe- en wynboere in die knyp gehad, maar dit was minder erg as die nuutste plaag waar diewe tonne druiwe in een nag wegdra uit die wingerde.

Die nuwe probleem het onlangs begin en druiweboere sit met die hande in die hare en een boer het in een nag meer as sewe ton druiwe verloor wat deur diewe weggedra is.

Alhoewel geen bewyse gevind kon word nie, bestaan die vermoede dat onwettige immigrante, wat steeds werkloos is, verantwoordelik is vir die skade in wingerde.

Wynboere in die Bordeaux gebied moet snags op die uitkyk wees vir geslepe diewe wat groot skade aanrig.

Sedert die begin van September het diewe reeds tonne druiwe weggedra, en niemand slaag daarin om hulle vas te trek nie.

In sekere gevalle moes die polisie sien dat die druiwe nie net gesteel word nie, maar dat wingerdstokke uit die grond geruk en net daar gelaat is.

Die Franse polisie is van mening dat die diewe moontlik kenners is wat dit tot wyn verwerk, maar boere sê die moontlikheid is eerder dat die druiwe op straat gesmous word.

Die boere sê alhoewel diefstal nie ’n vreemde probleem is nie, en reeds vir jare ondervind word, was dit nog altyd klein hoeveelhede wat gesteel word, gewoonlik vir eie gebruik, maar die huidige diefstal van tonne druiwe maak die bedryf byna nie meer winsgewend nie.

Volgens opnames is minstens 18% minder druiwe beskikbaar weens die droogte van vroeër en die diefstal sedert September vanjaar.