EU staan steeds by premier Rajoy

Die Europese Unie bly by sy aanvanklike besluit om die Spaanse premier, Mariano Rajoy, te ondersteun en geen erkenning te gee aan die eensydige onafhanklikheid van die nuwe Kataloniese Republiek nie.

Die moontlikheid van ’n bemiddeling deur die Europese Unie (EU) is uitgesluit, en het weer bevestig dat hulle volle vertroue het in die Spaanse regering.

Die EU het vroeër gesê hulle sal nie betrokke raak by die krisis nie omdat dit as ’n suiwer huishoudelike aangeleentheid beskou word.

Die Europese Kommissie se voorsitter, Jean-Claude Juncker, het glo gesê enige poging van afskeiding in Europa moet verhinder word.

Hy het ook gesê hy wil nie ’n situasie hè wat ontstaan dat die EU later uit 95 verskillende lidlande bestaan nie.

Intussen het Frankryk en Duitsland hulle steun aan die Spaanse premier, Mariano Rajoy toegesê en bevestig dat Spanje ’n regstaat is met ’n eie grondwet wat beskerm en toegepas moet word.

Dit is bekend dat die Franse president, Emmanuel Macron, een van die voorlopers is om die EU staande te hou, en het reeds planne bekend gemaak om die organisasie te hervorm, maar sy invloed is nie groot genoeg om al die lidlande te oortuig om in te koop op sy hervormings nie.

Premier Charles Michel van België is die enigste wat ’n vermanende woord gerig het tot die Spaanse regering, maar die regering het daarop heftig gereageer en Michel ernstig verkwalik dat hy sou “kant kies” teen ’n jare lange vennoot.

Foto – President Macron en Jean-Claude Juncker