EU onbetrokke by Spaanse krisis

Die Europese Unie het in ’n verklaring gesê die leiers van die organisasie sal nie betrokke raak by die krisis van Spanje nie, en stel hulle vertroue in die regering van Spanje.

Die EU leiers se benadering word gesien as ’n direkte afkeur van die Kataloniese separatiste se ywer om as onafhanklike staat verklaar te word.

Die EU se voorts die krisis in Spanje moet deur die leiers van Madrid en Barcelona opgelos word, en nie deur die Europese Unie nie.

Die Europese Raad se president, Donald Tusk, het aan die media gesê die Kataloniese krisis is nie op die EU se sakelys vir die komende byeenkoms in Brussel nie.

Hy sê al die EU leiers het hulle eie siening, mening en emosies oor die aangeleentheid, maar om daaroor te praat in die vergadering sal geen bydrae lewer nie.

Politieke ontleders sê talle EU lande is diep bekommerd oor die aangeleentheid, en glo dat Katalonië se onafhanklikheid sal lei tot ’n geweldige vlaag van soortgelyke aksies in ander gebiede.

President Poetin van Rusland het Europese lande gekritiseer, en gesê dit is wel ’n huishoudelike aangeleentheid, maar hulle gee erkenning aan die separatiste van Kosovo wat onafhanklik wil wees, terwyl dit nie aan Katalonië gegun word nie, wat dui op dubbele standaarde.