Ekonomiese Oorsig: Oktober 2017

Deur Adam Jacobs

Samevatting

Soos verlede maand vermeld, was daar die afgelope maand verdere tekens dat die wêreldekonomie momentum opbou. (Sien die verloop van die sakesiklus in die aangehegte tabel.) Hiermee saam wil dit nou voorkom asof inflasiekoerse begin versnel. Sentrale banke het ook seine uitgestuur dat ‘n strammer monetêre beleid binnekort in werking gestel kan word. Kapitaalmarkrentekoerse neig geleidelik hoër. Die grootste bedreiging wat die herstel proses kan kelder berus op geopolitieke verwikkelinge en veral die dreigemente van aanvalle en teenaanvalle deur Noord-Korea en die VSA. Dit dan wat betref gebeure in die internasionale omgewing.

Op plaaslike vlak is die vernaamste verwikkelinge waaraan aandag gegee sal word die volgende:

  1. Inligting vanuit die SARB se kwartaallikse ekonomiese verslag
  2. Die besluit van die SARB om die repokoers onveranderd te laat.
  3. Die verswakking van die wisselkoers en styging in die internasionale prys van ru-olie.
  4. Sienings wat die land se internasionale kredietwaardigheid kan raak.

Plaaslike inligting en verwikkelinge

In verlede maand se oorsig is die ekonomiese groeigegewens, BBP, vir kwartaal 2 behandel. Daar is op gewys dat alhoewel die k-t-k verloop van die BBP ‘n welkome toename getoon het, was dit hoofsaaklik te wyte aan die sterk vertoning van die landbousektor. J-o-j beskou, met landbou uitgesluit, neig die groeikoers egter steeds laer.

Meer inligting op die bestedingskant van die ekonomie, is in die Reserwebank se jongste oorsig verskaf. So byvoorbeeld, van k-t-k en seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers bereken, het reële privaat verbruiksbesteding met 4,7% in kw2 toegeneem. Owerheidsbesteding het marginaal met 0,8% gestyg. Bruto binnelandse vaste investering het egter swak gevaar met die grootste negatiewe bydraende sub-sektore, privaat woonhuise wat met 13,1% gedaal het, nie-privaat geboue wat met 5,5% verswak het en vervoer toerusting wat 5,4% laer was. Netto gesien het die vraagkomponente in kw2 met 2,4% toegeneem. Voeg daarby die toename in voorraadvlakke, dan blyk dit dat bruto binnelandse besteding, (BBB), ook met 2,4% gestyg het.

Beide reële uitvoer en invoer van goedere en dienste toon skerp toenames in die kwartaal van respektiewelik 14,5% en 13,3%. Die BBP styg dan ook met 2,5% terwyl die bruto nasionale inkome ‘n kleiner toename van 2,1% getoon het. Laasgenoemde is die gevolg daarvan dat netto faktor betalings aan die buiteland groter was as die netto faktor ontvangstes. Die ruilvoet het effens verswak.

Beskou ons die syfers jaar-op-jaar, lyk dit nie heeltemal so rooskleurig nie. Wat dan veral opval, en ‘n bron van kommer is, is dat bruto vaste investering wat verlede jaar reeds gedaal het, in die eerste twee kwartale van vanjaar verdere afnames getoon het. Gevolglik het finale vraag marginaal met 0,8% toegeneem. Weens ‘n sterk opbou van voorrade het die BBB egter met 2,4% gestyg wat grootliks daartoe bygedra het dat invoere 4,7% hoër as ‘n jaar tevore was terwyl uitvoere inderdaad gedaal het. Die bruto nasionale inkome het in die eerste twee kwartale van die jaar vinniger as die BBP toegeneem wat hoofsaaklik toegeskryf kan word in die daling daarin verlede jaar – dus die lae basis waarteen dit gemeet is.

Nominale besteding bly egter hoër as die nominale nasionale inkome met die gevolg dat die lopende rekening van die betalingsbalans tekorte bly toon. Dit beteken ook dat binnelandse spaar minder is as investering wat in eie reg, soos op gewys is, nie goed vertoon het nie. Inderwaarheid, die bruto binnelandse spaarkoers, uitgedruk as ‘n persentasie van die BBP, het van 17,2% in kw1 tot 16,3% in kw2 afgeneem. Die onbevredigende spaarsyfer, bevestig  weereens die land se afhanklikheid van die verkryging van buitelandse fondse ter finansiering van vaste investering en die tekort op die lopende rekening. Wat verder kommer wek, is dat netto buitelandse direkte investering, wat alreeds in 2014, 2015 en 2016 met onderskeidelik R20,6 miljard, R51,2 miljard en R16,4 miljard gedaal het, in die eerste twee kwartale vanjaar verder gedaal het en in kw2 met ‘n stewige R26,6 miljard. Die gevolg is dat die basiese balans, d w s die lopende rekening tekort plus veranderings in direkte vaste investering, in die tydperk 2012 tot 2016 met R758 miljard afgeneem het. Dit het die buitelandse reserwes onder druk geplaas ten spyte van die feit dat buitelandse bates op groot skaal verruil is vir kontant en daar op korttermyn kapitaalinvloei staatgemaak moes word. Nodeloos om by te voeg dat die wisselkoers ook onder druk gekom het. Sedert einde 2011 tot Augustus vanjaar het die geweegde gemiddelde wisselkoers van die rand met ongeveer 30% verswak. Dan het die netto verkope van finansiële bates aan buitelanders die land aan netto rente- en diwidendbetalings, in die tydperk 2012 tot 2016, R494 miljard gekos en dit styg nog jaarliks. Dit is ‘n bydraende faktor tot die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans. Niks is dus verniet of sonder gevolge  nie.

Kom ons kyk vervolgens na enkele gegewens wat huishoudings se finansiële posisie weergee.

  • Vergeleke met verlede jaar, was huishoudings se totale vergoeding in nominale terme, in kw2 vanjaar 7% hoër. Totale persoonlike beskikbare inkome, d w s ná betaling van direkte belasting,(PBI), toon ‘n toename van 7,4%. Laasgenoemde het dus 2,2 persentasiepunte vinniger as die inflasiekoers gestyg. Aangesien indiensname in kw2 verder gedaal het, beteken dit dat diegene wat wel ‘n werk gehad het, gemiddeld selfs beter gevaar het as wat die totale syfers soos hiervoor vermeld aandui.
  • Netto persoonlike besparing, d w s ná voorsiening van waardevermindering, bly egter daal. In kw2 was dit 0,2% laer as ‘n jaar tevore. Die netto spaarsyfer van indiwidue is nou reeds sedert 2006 negatief.
  • Skuld van indiwidue, uitgedruk as persentasie van hulle ná direkte belaste inkome, het die afgelope jaar verder afgeneem en wel van 74,8% in kw2:2016 tot 72,6% in kw2 vanjaar. Om egter perspektief op die syfer te kry, moet vermeld word dat die skuldverhouding in die jaar 2000 54,1% beloop het en toe geleidelik gestyg het tot 85,7% in 2008 waarna dit laer tot huidige vlak afgeneem het. Dit bly egter steeds té hoog, gesien die persentasie van die bevolking wat kredietwaardig is en dus skuld kan bekom. Daarom is dié syfer ook nie vergelykbaar met skuldvlakke in Westerse nywerheidslande wat aansienlik hoër is.
  • Indiwidue se totale welvaart tot beskikbare inkome het die afgelope jaar afgeneem en wel vanaf 384,2% in kw2:2016 tot 373,2% in kw2:2017. ‘n Baie groot deel van hulle welvaart is opgesluit in pensioenfondse. Die swak vertoning van beleggingsmarkte die afgelope jaar, relatief tot die styging in die ná belaste inkome, het tot gevolg gehad dat die syfer gedaal het.
  • Laastens wil ek verwys na indiwidue as groep se skuld-dienskoste in verhouding tot ná belaste inkome. Die syfer het die afgelope jaar ook effens gedaal en wel van 9,7% tot 9,4%. Hierdie syfer verteenwoordig rentekostes relatief tot PBI. Die verloop hiervan oor tyd is ook insiggewend. In die jaar 2000 was dit 7,8% en het toe gestyg tot 13,4% in 2008. Daarna het dit afgeneem tot 8,6% in 2013 om weer te styg tot 9,7% in die eerste twee kwartale van 2016, om daarna weer te daal. Uiteraard speel rentekoersveranderings hierin ‘n rol saamgelees met die omvang van skuldfluktuasies wat voorkom. Rentekoersveranderings kan egter ook spare beïnvloed en ook dit moet in gedagte gehou word.

Alhoewel die meeste gegewens dus daarop dui dat indiwidue se finansiële posisie, gemiddeld, stadig aan die verbeter is, soos verwag kan word tydens die huidige fase van die sakesiklus, is dit nog geensins bevredigend nie.

In die lig van die huidige stand van sake in die ekonomie waarna sover verwys is, moet die besluit van die Reserwebank om die repokoers onveranderd te laat in perspektief gesien word.

Ek beskou my nie as ‘n ekonoom wat monetêre beleid slaafs ondersteun synde die begin en einde van bestuur van die ekonomie nie. Eerder sien ek dit as deel van ‘n pakket van maatreëls wat ‘n rol kan speel. Ook moet in gedagte gehou word dat rentekoerse redelik effektief ingespan kan word om vraag in die ekonomie in te kort as dit verhoog sou word. ‘n Rentekoersverlaging bied egter geen waarborg dat meer krediet opgeneem sal word waardeur binnelandse besteding kan styg nie. Selfs al sou dit lei tot groter besteding, bied dit weer geen waarborg dat ekonomiese groei, (BBP), daarop in dieselfde mate sal volg nie, aangesien binnelandse vraag ook deur invoere bevredig kan word. Invoerlekkasies kom voor. Internasionale mededingingsvermoë is dus belangrik.

Voor die onlangse vergadering van die Monetêre Beleidskomitee wat die afgelope maand plaasgevind het, was daar groot verwagtings dat die repokoers met ‘n verdere 0,25 van ‘n persentasiepunt verlaag sou word. Dit is egter onveranderd gelaat. Die grootste argument vir ‘n daling was die onlangse verlangsaming in die toename van die inflasiekoers. Vir die land as geheel het dit vanaf 7,0% in Desember verlede jaar tot 4,4% in Julie verlangsaam en toe in Augustus effens versnel tot 4,6%. Dit moet egter in gedagte gehou word, dat die primakoers van 10,5% in Desember, slegs 3,5 persentasiepunte hoër as die inflasiekoers was. Dus, die reële primakoers was redelik laag.

Maar die Reserwebank moet hom nie net laat lei deur die geskiedenis nie. Dit moet hoofsaaklik ‘n vooruitskouing oor die verloop van inflasie neem asook ander sake, soos die moontlike verloop van internasionale rentekoerse. ‘n Groot aantal faktore op beide ekonomiese en politieke gebied speel hier ‘n rol. Dan is daar ‘n dreigende afgradering van die land se kredietwaardigheid, na nie-kredietwaardig, deur ‘n instansie soos Moody’s. Wat verder ook van belang is, en ek het nog nie gesien dat iemand hierna verwys nie, is dat die verwagte tekort op die staatsfinansies sowat R50 miljard groter kan wees as waarvoor begroot is. Hoe groter die tekort, hoe sterker die vraagstimulerende effek uit die bron.

Die afgelope maand het die wisselkoers van die rand, van maandeinde tot maandeinde, ook skerp verswak. Teenoor die VSA$ beloop die daling 4,1%, teenoor die euro 3,6%, vergeleke met die Britse pond ‘n fris 8% en teenoor die jen 2,2%. Dit hou die gevaar in dat invoere duurder word. Voeg daarby dat die Brent ru-olieprys die afgelope maand ook aansienlik gestyg het, veral in randterme. In VSA$ terme was die styging 7,7% en in rand uitgedruk 12,1%.

Ek was self ook effens verbaas dat die rentekoers nie verlaag is nie maar wil dit duidelik stel dat ek nie daarvoor te vinde sou gewees het nie. Ek was selfs verras oor die vorige daling.

Ek het toenemend probleme met sake buite om die ekonomie wat in die land aangaan. Staatskaping is een so ‘n aspek. Maar ook aangeleenthede soos die land se internasionale mededingendheid. Hier boer ons agteruit. Algeheel gesien, volgens onlangse inligting, het die land teruggesak van die 47ste mededingende land tot nommer 61 – dus ‘n daling van 14 plekke op die ranglys. Meer nog, op sekere gebiede waar ons tot onlangs nog hoog aangeslaan was, is daar nou ook krake soos byvoorbeeld t o v die kwaliteit en geloofwaardigheid van die land se instellings wat van posisie 40 tot 76 verswak het. Ook wat betref ontwikkeling van finansiële markte, waar ons nog altyd hoog aangeslaan is, het die land verswak van posisie 11 tot 44. Dan wil ek nie eers praat van die skok oor die geloofwaardigheid van die ouditeursberoep in die land nie. Ek hoop regtig dit is redelike geïsoleerde geval(le) wat voorgekom het.

Een van die belangrikste bedreigings bly egter dat Moody’s die land se kredietwaardigheid ook tot nie-kredietwaardig kan verlaag. Die afgelope tyd merk ek via Bloomberg se webblad, dat veral Moody’s redelik gereeld hulle kommer gelug het oor verwikkelinge in die RSA. Ek wil na enkele opmerkings verwys.

  1. Op 16/8/2017 die volgende uitspraak. ”Political tensions in the ruling ANC will weigh on South Africa’s growth. Key constraints to growth are domestic, including political tensions and policy uncertainty.”
  2. Op 7/9/2017: “Moody’s warned that to implement ‘radical economic transformation’ could turn away investors and rising poverty may curb Treasury’s efforts to rein in fiscal deficits. Plans for land redistribution, preferential procurement and other forms of affirmative actions could deter investors. Some proposals, such as the recently drafted mining charter, present risks to growth by reducing regulatory stability undermining investor confidence.”
  3. Op 27/9/2017 die volgende opmerkings. ”Since the June downgrade Moody’s had observed a larger-than-expected shortfall in South African government revenues and an increase in foreign financing of government borrowing in rand to about 40 percent. To some extent the risk of ‘sudden stop’ has increased”. Other concerns mentioned include: “Weak economic growth and pressure on institutions were constantly tested.” “Whoever the ruling ANC party chooses as its next leader, Moody’s would wait and follow what this really means for the policy direction.”
  4. Op 28/9/2017 het Fitch bykomend die volgende verklaar. “A turn to more radical rhetoric and policy positions by the traditionalist wing of the party would weigh on investor confidence. Mining and manufacturing activity are likely to be hit especially hard by the political challenges as the elevated policy uncertainty stymies much-needed investment.” Voorts die interessante opmerking: “Average expansion is forecast around 1 percent for the next three years.” Dan ook: “Even after a new leader is chosen, deep-seated divisions within the party will limit the scope for much-needed structural reforms.”

(Mnr. Adam Jacobs is ‘n voormalige hoofekonoom by Volkskas)