Duitsers waarsku Trump oor Iran-akkoord

Die Duitse regering het president Donald Trump gewaarsku oor die moontlikheid om die 2015 kernooreenkoms met Iran nie te kanselleer of te onttrek daarvan nie.

Duitsland het die ooreenkoms verdedig en gewaarsku dat die VSA se onttrekking uit die ooreenkoms kan selfs beteken dat die Europese Unie na Rusland en Sjina gedryf kan word.

Alle oë was op Amerika gerig om te hoor wat die Amerikaanse president, Donald Trump, se standpunt is oor die kernwapen ooreenkoms wat met Iran aangegaan is gedurende die regeringstermyn van Barack Obama.

Vroeër het president Trump gesê die Obama ooreenkoms is die swakste wat gemaak kon word, en gedreig dat hy die jaarlikse hernuwing daarvan nie sal doen nie.

Steffen Seibert, woordvoerder van die Duitse regering, sê in ’n verklaring indien die Amerikaanse regering nie die bestaande ooreenkoms hernu en staande hou nie, sal hulle harder werk saam met ander partye om die bestaande ooreenkoms met Iran in stand te hou.

Vroeër het die Duitse Minister van Buitelandse Sake, Sigmar Gabriel, gesê die onttrekking van die VSA uit die ooreenkoms sal ’n wig tussen Amerika en Europa indryf, maar Europa sal bymekaarstaan oor die aangeleentheid.

President Trump het egter Vrydag in sy toespraak gesê hy ondersteun nie die huidige kernooreenkoms met Iran nie en laat dit oor aan die Amerikaanse Kongres om met ’n beter ooreenkoms na vore te kom, en indien die Kongres nie met ’n beter voorstel kom nie, onttrek Amerika uit die ooreenkoms.

Intussen het talle lande hul teleurstelling uitgespreek en in ’n gesamentlike verklaring het Brittanje, Frankryk en Duitsland ’n waarskuwende woord gerig dat die ooreenkoms nie vervang kan word nie, en Rusland het hom daarby aangesluit.

Foto – Minister Sigmar Gabriel