Brande in Kalifornië woed steeds

Die verwoestende brande in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië het reeds meer as 43 mense se dood teweeggebring, en honderde geboue is vernietig.

Die brande woed reeds meer as ’n week, en het nog nie bedaar in tien gebiede waar dit die ergste is nie.

Die owerheid in die deelstaat reken dit is die ergste brande wat nog ondervind is en in Sonomo County ten noorde van San Francisco is die grootste skade aangeteken waar honderde inwoners al hulle besittings verloor het.

Meer as 400 mense van die omgewing word vermis en die ergste word gevrees, maar tot hede is 43 mense gedood in die gebied.

Die afgelope naweek is aangekondig dat sowat 200 000 hektaar deur die vlamme verteer is, en in die stad Santa Rosa is sowat 3 000 woonhuise vernietig.

Die streek wat hoofsaaklik wynproduserende gebied is, se wingerde is tot in die grond vernietig, en sal etlike jare neem om vervang te word.

Die weerburo het gewaarsku dat sterk winde in aantog is wat die verwoestende brande wat op 22 verskillende plekke heers, nog gevaarliker sal maak.

Meer as 8 000 brandweermense is in ’n verbete stryd gewikkel teen die verterende vuur.

Die brande word gesien as die ergste wat nog ooit in Amerika uitgebreek het, en die vrees bestaan dat nog meer mense omgekom het.